1 En toe dit klaar was, het die owerstes na my gekom en gesê: Die volk van Israel en die priesters en die Leviete het hulle nie afgesonder van die volke van die lande, wat hulle gruwels betref nie, naamlik van die Kanaäniete, Hetiete, Feresiete, Jebusiete, Ammoniete, Moabiete, Egiptenaars en Amoriete.
2 Want hulle het van húlle dogters vir hulleself en vir hul seuns geneem, sodat die heilige geslag hom met die volke van die lande vermeng het; en die owerstes en die leiers het in hierdie ontrou eerste die hand gehad.
3 En toe ek dit hoor, het ek my kleed en my mantel geskeur en van die hare van my hoof en my baard uitgepluk en verslae neergesit.
4 En by my het byeengekom almal wat gebeef het vir die woorde van die God van Israel, oor die ontrou van die ballinge; maar ek het verslae bly sit tot die aandoffer toe.
5 Maar op die tyd van die aandoffer het ek opgestaan uit my verootmoediging; en terwyl ek my kleed en my mantel skeur, het ek op my knieë my gebuig en my hande uitgebrei na die HERE my God
6 en gesê: My God, ek voel te beskaamd en verleë om my aangesig tot U, my God, op te hef, want ons ongeregtighede het oor ons hoof gegroei, en ons skuld is hemelhoog.
7 Van die dae van ons vaders af tot vandag toe is ons in ‘n groot skuld, en oor ons ongeregtighede is ons self, ons konings, ons priesters oorgegee in die hand van die konings van die lande, aan die swaard, aan gevangenskap en aan plundering en beskaming van die aangesig soos dit vandag is.
8 En nou was daar vir ‘n klein oomblik genade van die kant van die HERE onse God, om vrygeraaktes vir ons te laat oorbly en ons ‘n pen te gee in sy heilige plek, sodat onse God ons oë verhelder het en ons ‘n bietjie verademing geskenk het in ons diensbaarheid.
9 Want slawe is ons; in ons slawerny egter het onse God ons nie verlaat nie, maar Hy het ons guns laat vind voor die konings van Persië, sodat hulle ons verademing geskenk het om die huis van onse God weer op te rig en sy puinhope te herstel en ons ‘n muur te gee in Juda en Jerusalem.
10 En wat sal ons nou ná hierdie dinge sê, onse God? Want ons het u gebooie verlaat
11 wat U deur u knegte, die profete, beveel het deur te sê: Die land waar julle inkom om dit in besit te neem, is ‘n onrein land vanweë die onreinheid van die volke van die lande, deur hulle gruwels waarmee hulle dit van die een end tot die ander vervul het in hulle onreinheid.
12 Gee dan nou julle dogters nie aan hulle seuns en neem hulle dogters nie vir julle seuns nie, en soek tot in ewigheid nie hulle vrede en geluk nie, sodat julle kan sterk word en die goeie van die land geniet en dit aan julle kinders as besitting kan gee tot in ewigheid.
13 En ná alles wat oor ons gekom het vanweë ons slegte dade en ons groot skuld—want U, onse God, het ons minder toegereken as wat ons ongeregtighede verdien het, en aan ons nog soveel vrygeraaktes gegee—
14 sal ons weer u gebooie verbreek en ons verswaer met hierdie gruwelike volke? Sal U nie op ons vertoorn wees, totdat ons vernietig is, sodat daar geen oorblyfsel of vrygeraakte meer is nie?
15 HERE, God van Israel, U is regverdig; want ons het as vrygeraaktes oorgebly soos dit vandag is. Hier is ons in ons skuld voor u aangesig, want niemand kan om sulke dinge voor u aangesig bestaan nie.